DIE TO STRAND-VAKANSIE-OORD IS GELEË IN ‘N KLEIN, Skilderagtige DORPIE genaamd VRYSLUITBAAI, SLEGS 26 KM SUID VAN MARGATE EN 10 KM NOORD VAN DIE WILDE KUS SON
Die oord grens aan die strand, wat dit ‘n ideale wegbreek-vakansiebestemming maak vir ons lede en vir privaat gaste. Dat dit rustig is, spreek vanself en ons is trots op ons skoon en veilige semi-privaat strand, wat gedurende naweke en gedurende die seisoen deur lewensredders dopgehou word. Daar is ook haainette, wat dit ‘n veilige area maak om te swem. Die oord vorm deel van ‘n groter bewaringsgebied en baie soorte voëls en klein wild kan op die kort staproetes deur ons subtropiese woud opgemerk word.
Die oord kan +-1 100 gaste akkommodeer in 63 selfsorg-chalets en 141 ruim staanplekke vir kampeer. Ons het ook twee riviertente (Rivertent 1 is ‘n normale tent en Rivertent 2 is ‘n “Glamtent”). Die kampterrein het twee ablusieblokke, wat daagliks gediens word, elke staanplek is voorsien van water en kragpunte. Ons is trots op ons driester-gradering, veral as in ag geneem word dat ons een van die groter oorde aan die Suidkus is. Ons het ook ‘n moderne konferensiesentrum, toegerus met Wi-Fi, lugversorging en oudiovisuele geriewe.
Die sentrum het drie lokale, wat tussen 80 en 300 afgevaardigdes kan akkommodeer, en ‘n aangrensende restaurant wat gereed staan met watertand-etes vir afgevaardigdes.
Gaste kan ook in seisoen ‘n skemerkelkie of twee by ons kroeg geniet en hulle kan voorraad aanmaak vir basiese benodigdhede by ons winkel. TO STRAND het die volgende om aan te bied: Speelkamer, Mini-gholf, visvang, swembad en vermaakprogramme gedurende vakansieseisoene.
Elke jaar woon nagenoeg 7 000 kinders veldskoolkampe by en neem deel aan ons avontuur-ervaring by TO Strand. Skole maak jaar na jaar van hierdie aanbod gebruik, een rede is ons span opgeleide instrukteurs, wat fokus op veiligheid, unieke ervarings, gesonde maaltye en waarde vir geld. Veiligheid is ons nommer een prioriteit, en dit is ook hoekom ons oord 24/7 deur ons sekuriteitsmaatskappy gepatrolleer word. By ons oord kan kinders weer kinders word!