Laas Woensdag besluit die Maroelas.com span op die nippertjie om kampplek te bespreek nadat die weervoorspelling mooi weer wys vir die naweek.
Ons het gou besef ons is nie die enigstes met dieselfde idee vir ‘n vinnige wegbreek nie.
Nadat ons verskeie plekke gebel het, was ons gelukkig om ‘n plek te bespreek by Rivierzicht River Resort, geleë langs die Breederivier, net so 13 km voor Robertson.
Dinge om te doen en te sien in die Robertson-omgewing:
- Verken wynplase langs die Robertson-wynvallei.
- Besoek die Sheilam Cactus & Succulent Garden.
- Besoek Owl’s Rest Olive and Lavendar plaas
- Proe olyfolies en balsamiese asyne by Lion’s Creek Landgoed
- Neem ‘n bootvaart op die Breederivier
- Geniet ‘n ontspannende en unieke stoomtreinrit
- Stap in die Vrolijkheid Natuurreservaat
Rivierzicht bied ‘n verskeidenheid van opsies aan, al langs die Breederivier: 6 selfsorg hout huise, 9 selfsorg boskamp eenhede en 30 kampstaanplekke. Gaste kan visvang, kanovaart, voëlkyk, swem en stap by die oord.
Vrydagoggend haak ons die kampwaentjie met sy daktent bo-op en ons vat die pad vanaf Ceres via Worcester tot in Robertson. Ons was gretig om 14h00, hul inboektyd, daar te wees sodat ons vroeg genoeg kan kamp opslaan en om langbeen langs die koelte van die Breederivier te kan ontspan.
Ons is kampplek no. “O” ge-allokeer, amper heel op die einde aan die weste kant van die kampterrein. Ons is ook die opsie aangebied van ander oop staanplekke, indien die skaduwee vir ons beter lyk daar. Want sê die vriendelike dame by die kantoor: “Dit gaan ‘n warm naweek wees”. Nee, wat die eerste opsie was in die kol en ons het sommer gou die waentjie lekker onder die skadu-bome geparkeer en kamp opgeslaan.
Ons terugvoer oor Rivierzicht Rivier Oord:
- Die netjiese staanplekke het almal gras en skadubome. Daar is wel ‘n paar staanplekke wat toe was as gevolg van die oorstromings die afgelope winter seisoen.
- Die naaste ablusiegeriewe, met vier badkamers (elk met ‘n stort, toilet en wasbak), word twee keer daagliks skoongemaak. ‘n Besem en mop is beskikbaar vir selfskoonmaak indien verlang.
Elke badkamer is toegerus met toiletpapier, handwas en lugverfrisser.
Boonop is daar twee buite-wasbakke om skottelgoed en klere te was.
- Die gas geyser by die ablusie verseker dat daar altyd heerlike warm water is.
- Die oord laat honde toe en heelwat kampeerders maak gebruik van hierdie toegewing.
- Elke staanplek het ‘n kragpunt, ‘n waterkraan en ‘n braaidrom.
- Die water in die oord is nie drinkbaar nie, maar daar is gebottelde water (5-liter), ys en braaihout te koop op ‘n sentrale plek en jy gooi jou geld in die “honesty box”.
- Kampeerders kan eie fietse, kanoes en visvangtoerusting saambring.
Kampeerders het ook lekker rondgedryf in die rivier met opblaas binnebande, water noodles en roeiplanke. - ‘n Nuwe fasiliteit wat aangebied word, is die huur van ‘n houtbrand warm bad (“wood fire hot tub”) vir ‘n minimum 2 nagte en word dit tot by jou kampplek of huisie geneem.
- Die oord het ‘n streng beleid van geen harde musiek en ook geen geraas na 22h00 saans, wat ons waardeer het. Ons mede-kampeerders het ook hierdie reël gerespekteer, wat bygedra het tot ‘n rustige atmosfeer.
- Op ‘n Sondag is daar geen haas om uit te boek nie, solank dit voor 14h00 is.
- Beperkte wi-fi is slegs beskikbaar by die selfsorg huise, maar dit was nie vir ons ‘n probleem nie, aangesien die selfoonsein by die oord sterk was.
Artikel geskryf & saamgestel: Corné & Liesel – Maroelas.com
Vrywaring: Maroelas.com het vir hul eie verblyf betaal by die kampeerterrein/oord in hierdie resensie. Alle pogings is aangewend om te verseker dat die inligting wat verskaf word akkuraat en op datum is. Ons beveel egter aan dat u alle besonderhede direk met die oord/kampeerterrein verifieer voordat u enige planne maak.